6. Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik daarmee
7. dat hy vir haar gesweer het: “Sowaar, vra van my net wat jy wil.”
8. Aangepor deur haar ma vra sy toe: “Bring vir my op ’n skinkbord die kop van Johannes die Doper!”
9. Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ’n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word.
10. Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof.
11. Sy kop is op ’n skinkbord ingebring en aan die meisie gegee wat dit weer na haar ma toe gevat het.
12. Johannes se dissipels het sy liggaam kom haal en hom begrawe. Daarna het hulle vir Jesus kom vertel wat gebeur het.
13. Toe Jesus dit hoor, het Hy in ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n afgeleë plek om alleen te wees. Maar die skare het dit uitgevind en vanuit hulle dorpe oorland agter Hom aan gekom.
14. Toe Jesus uit die skuit klim, sien Hy dat daar reeds ’n massa mense bymekaar was. Hy het ’n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak.
15. Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.”
16. Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.”
17. “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.”
18. “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê.
19. Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare.
20. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel!
21. Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders.