42. en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.
43. “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”
44. “God se koninkryk is soos ’n skat wat in ’n stuk grond weggesteek lê. Iemand kry dit daar, maar steek dit dadelik weer weg. Oorstelp van blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie stuk grond.”
45. “God se koninkryk is ook soos ’n pêrelhandelaar op soek na mooi pêrels.
46. As hy een baie kosbare pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie pêrel.”
47. “Verder is God se koninkryk soos ’n treknet wat in die see uitgegooi word en allerhande soorte vis bymekaarbring.
48. Wanneer dit vol is, sleep die vissers dit op die strand uit. Hulle gaan sit, sorteer die goeie vis in kratte en gooi die slegtes weg.
49. So sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. Die engele sal kom, die slegte mense wegneem van die goeies
50. en hulle in die brandende oond gooi. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.
51. Verstaan julle dit alles?”Hulle antwoord Hom: “Ja, ons verstaan.”
52. Hy voeg toe by: “Elke skrifkenner wat ’n ware student in God se koninkryk geword het, is soos ’n huiseienaar wat nuwe sowel as ou dinge uit sy stoorkamer te voorskyn haal.”
53. Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan vertrek.
54. In Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het, het Hy die mense in hulle sinagoge onderrig. Hulle was verbaas en het gesê: “Waar kry hy hierdie wysheid en wonderwerke vandaan?
55. Is hy dan nie maar net die timmerman se seun nie? En is Maria nie sy ma en Jakobus, Josef, Simon en Judas sy broers nie?
56. En sy susters, hulle woon tog almal hier onder ons. Wat maak hom so danig belangrik?”