Markus 9:20-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.

21. Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?”“Van kleins af,” was sy antwoord.

22. “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!”

23. “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!”

24. “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”

25. Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.”

26. Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!”

27. Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan.

28. Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?”

29. Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”

30. Hulle het toe daarvandaan vertrek en deur Galilea gereis. Jesus wou dit egter nie rugbaar laat word nie,

31. want Hy wou tyd hê om sy dissipels te onderrig. Sy woorde aan hulle was: “Die Seun van die Mens gaan aan die mag van mense oorgegee word. Hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”

32. Hulle het dit nie verstaan nie, maar was te bang om Hom daaroor uit te vra.

33. Hulle het toe in Kapernaum aangekom. In die huis waar hulle sou oorbly, vra Hy sy dissipels: “Waaroor het julle op pad geredeneer?”

34. Hulle bly toe stil, want hulle het mekaar langs die pad aangevat oor wie van hulle die belangrikste is.

35. Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: “As jy die vernaamste wil wees, moet jy agter almal inval en almal se dienaar wees.”

36. Toe laat Hy ’n kindjie tussen hulle staan en slaan sy arms om hom met die woorde:

Markus 9