Markus 8:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur.

10. Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta.

11. Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer. Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken.

12. Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.”

13. Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek.

14. Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad.

15. Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.”

16. Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.”

17. Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte?

Markus 8