28. “Wel,” antwoord hulle Hom, “party meen U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander die een of ander profeet.”
29. Hy sê vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”Petrus antwoord: “U is die Messias.”
30. Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie.
31. Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan.
32. Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf.
33. Jesus het Hom egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus bestraf met die woorde: “Gee pad agter My, jou satan! Jy dink soos mense dink. Jy dink nie soos God dink nie.”
34. Toe roep Jesus sy dissipels en die skare na Hom toe en sê vir hulle: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom.
35. As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red.
36. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?