3. Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede.
4. Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.”
5. Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het.
6. Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof.Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig.
7. Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf.
8. Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie.
9. Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf.
10. Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek.
11. Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.”
12. Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom.
13. Hulle het ook baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.