Lukas 5:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Eendag was Jesus op die strand van die See van Galilea besig om te preek, en groot menigtes het na Hom toe gebeur om na die woord van God te luister.

2. Hy het twee leë skuite aan die waterkant gesien waar vissermanne dit gelos het om hulle nette te was.

3. Jesus het in een van die skuite geklim en die eienaar, Simon, gevra om dit ’n entjie in die water te stoot. Hy het in die boot gaan sit en die skares van daar af geleer.

4. Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: “Vaar nou dieper in en gooi julle nette uit om te vang.”

5. “Meneer,” het Simon geantwoord, “ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie. Maar as u so sê, sal ons weer probeer.”

6. En hierdie keer was hulle nette so vol dat dit begin skeur het!

7. Hulle het hul maats in die ander skuit geroep om te kom help en gou was albei skuite so vol vis dat dit amper gesink het.

8. Toe Simon Petrus besef wat gebeur het, val hy op sy knieë voor Jesus en sê: “Here, gaan asseblief weg van my af – ek is ’n te groot sondaar.”

9. Want hy was verbyster deur die groot visvangs, net soos die ander by hom.

10. Sy kollegas, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was net so verbaas.Jesus het vir Simon geantwoord: “Moenie bang wees nie! Van nou af sal jy mense vang!”

11. En toe hulle aan wal kom, het hulle alles net so laat lê en Jesus gevolg.

12. In een van die dorpe het Jesus ’n man met ’n gevorderde velsiekte raakgeloop. Toe die man Jesus sien, het hy diep voor Hom neergebuig en gesmeek om genees te word. “Here,” het hy gesê, “as U wil, kan U my gesond maak.”

13. Jesus het sy hand uitgesteek en die man aangeraak. “Ek wil,” het Hy gesê. “Word gesond!” En net daar het sy velsiekte verdwyn.

14. Toe het Jesus hom beveel om niemand te vertel wat gebeur het nie. “Gaan reguit na die priester toe en laat hy jou ondersoek. Vat die offer saam wat deur die wet van Moses vereis word vir iemand wat van so ’n velsiekte gereinig is sodat almal die bewys van jou genesing kan sien.”

Lukas 5