5. Terwyl sommige druk in gesprek was oor die tempel, oor die mooi klipblokke en gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê:
6. “Hierdie dinge wat julle sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op ’n ander een sal oorbly nie. Alles sal gesloop word.”
7. Hulle vra toe vir Jesus: “Leermeester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan gebeur?”
8. In reaksie daarop het Jesus gesê: “Pas op sodat julle nie mislei word nie, want baie sal na vore tree en maak of hulle namens My optree en sê: ‘Ek is die een,’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie!
9. Wanneer julle ook al hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie, want hierdie dinge moet eers gebeur, maar die einde volg nie onmiddellik nie.”
10. Daarop het Hy aan hulle gesê: “Nasie sal teen nasie optrek en koninkryk teen koninkryk.
11. Daar sal hewige aardbewings wees, en van plek tot plek sal daar hongersnood en epidemies wees. Daar sal vreesaanjaende dinge voorkom en magtige tekens van die hemel af.
12. “Nog voordat al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle arresteer en vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges en tronke oorlewer; hulle sal julle voor konings en goewerneurs sleep omdat julle in my Naam optree.
13. Dit sal aan julle ’n geleentheid gee om te getuig.
14. “Neem julle nou reeds voor om julle nie te bekommer oor julle verdediging nie,
15. want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie.
16. Julle sal uitgelewer word deur ouers, broers, familie en vriende, en hulle sal sommige van julle doodmaak.
17. Julle sal ook deur almal gehaat word omdat julle in my Naam optree.