Lukas 21:20-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle kennis neem dat sy vernietiging aangebreek het.

21. Dan moet die mense wat in Judea is, na die berge toe vlug, en die mense wat in die middel van die stad self is, moet dit ontruim, en die mense wat op die platteland is, moet nie Jerusalem binnegaan nie.

22. Daardie dae is dae van vergelding sodat wat geskryf staan in vervulling moet gaan.

23. Groot ellende wag op die verwagtende vroue en ook op dié wat nog borsvoed gedurende daardie dae, want daar sal groot benoudheid in die land heers en God se toorn sal op hierdie volk rus.

24. Sommige sal deur die skerpkant van die swaard omkom en ander sal as gevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal vertrap word deur die vreemde nasies totdat die tyd van die nasies verby is.”

25. “Daar sal wondertekens wees wat die son, maan en sterre betref. En op die aarde sal daar onrus onder die nasies wees uit angs vir die gebulder van die see en sy golwe.

26. Mense word flou van vrees en van die voorbodes oor wat nog vir die wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemel sal geskud word.

27. En dan sal hulle vir My, die Seun van die Mens, sien kom op ’n wolk met krag en groot heerlikheid.

28. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.”

29. Jesus het toe aan hulle ’n gelykenis vertel: “Let op die vyeboom en al die ander bome.

30. Wanneer julle sien dat hulle begin bot, weet julle uit julle eie dat die somer naby is.

Lukas 21