Lukas 2:32-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. ’n lig om God aan die nasiesbekend te maak,en die glorie van u volk Israel!”

33. Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is.

34. Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil.

35. So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.”

36. Anna, ’n profetes, was ook daar in die tempel. Sy was die dogter van Fanuel uit die stam van Aser, en sy was baie oud. Sy was ’n weduwee; haar man is oorlede toe hulle nog maar net sewe jaar getroud was.

37. Sy was nou 84 jaar oud. Sy was nooit weg van die tempel af nie en het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed.

38. Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die bevryding van Jerusalem.

39. Toe Jesus se ouers al die vereistes van die wet van die Here nagekom het, het hulle teruggekeer na hulle dorp, Nasaret in Galilea.

40. Daar het die Kindjie sterk en gesond grootgeword. Hy was vervul met wysheid, en God se guns was op Hom.

41. Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees.

42. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon.

Lukas 2