Lukas 18:21-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Hy het geantwoord: “Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.”

22. Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: “Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.”

23. Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk.

24. Toe Jesus sien dat hy so afgehaal lyk, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog nie vir mense wat ryk is aan aardse besittings om aan die koninkryk van God deel te kry nie!

25. Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryke om aan die koninkryk van God deel te kry.”

26. Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie is dan in staat om verlos te word?”

27. Jesus het gereageer: “Dié dinge wat by mense onmoontlik is, is juis by God moontlik.”

28. Petrus sê toe daarop: “Kyk, ons het ons eie besittings prysgegee en U gevolg.”

29. Jesus het geantwoord: “Ek verseker julle, daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God hulle huis of vrou of broers of ouers of kinders prysgegee het,

30. wat nie soveel keer meer in hierdie tyd ontvang nie, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

31. Jesus het die twaalf eenkant geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe en alles wat deur die profete opgeteken is oor die Seun van die Mens sal volledig vervul word.

32. Hy sal uitgelewer word aan die nie-Jode en bespot, beledig en ook op gespoeg word.

Lukas 18