Lukas 18:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Die dissipels het gesien wat aangaan, en die mense voor stok gekry.

16. Jesus het egter die kindertjies nadergeroep en gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom, en moet hulle nie keer nie, want dit is sulke mense wat deel het aan die koninkryk van God.

17. Ek verseker julle, wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie.”

18. Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”

19. Jesus het gereageer: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, dit is God.

20. Jy ken mos die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis aflê nie, en eer jou vader en jou moeder.”

21. Hy het geantwoord: “Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.”

22. Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: “Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.”

23. Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk.

Lukas 18