7. Toe Jesus sien dat almal wat na die ete genooi was, naby die kop van die tafel probeer sit, het Hy hulle hierdie raad gegee:
8. “As julle na ’n bruilof genooi word, moenie altyd die beste plek uitsoek nie. Wat as daar iemand belangriker as jy ook genooi is?
9. Die gasheer sal sê: ‘Laat hierdie persoon asseblief hier sit.’ Dan sal jy met ’n rooi gesig opnuut moet plek soek – aan die end van die tafel!
10. “Maak liewer so – sit aan die end van die tafel. Dan, wanneer die gasheer jou sien, sal hy kom en sê: ‘Vriend, ons het ’n beter plek as dit vir jou!’ Dan sal jy voor al die ander gaste vereer word;
11. want die hoogmoediges sal verneder word, maar die nederiges sal vereer word.”
12. Toe draai Hy na sy gasheer. “Wanneer jy ’n middag- of aandete gee,” het Hy gesê, “moenie jou vriende, broers, familie en ryk bure nooi nie. Want hulle sal jou beloon deur jou terug te nooi.
13. Nooi liewer die armes, kreupeles, verlamdes en blindes.
14. Jy sal geseënd wees, want by die opstanding van die godvresendes sal God jou beloon omdat jy hulle wat jou nie kon beloon nie, genooi het.”
15. Toe hy dit hoor, het ’n man wat saam met Jesus aan tafel was, uitgeroep: “Wat ’n voorreg sal dit wees om deel te hê aan die feesmaal in die koninkryk van God!”
16. Maar Jesus het hom geantwoord: “’n Man het ’n groot feesmaal voorberei en baie uitnodigings uitgestuur.
17. Toe alles gereed was, het hy ’n slaaf rondgestuur om die gaste te laat weet dat hulle maar kan kom.
18. Maar hulle het almal begin verskoning maak. Een het gesê hy het pas ’n stuk grond gekoop en wou daarna gaan kyk. Hy vra dus om verskoon te word.
19. ’n Ander een het gesê hy het nou net vyf paar osse gekoop en wil hulle gaan probeer.
20. ’n Ander een was pas getroud, en het gesê hy kon nie kom nie.
21. “Die slaaf het toe teruggekom en aan sy baas vertel wat hulle gesê het. Die baas het kwaad geword en sê toe: ‘Gaan gou in die strate en stegies van die stad en nooi die armes, die kreupeles, die verlamdes en blindes.’