2. “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as die ander mense van Galilea?” het Hy gevra. “Is dit waarom hulle geboet het?
3. Glad nie! En julle sal ook omkom tensy julle tot inkeer kom.
4. En wat van die agtien mans wat gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Was hulle die ergste sondaars in Jerusalem?
5. Nee, en Ek sê weer vir julle, as julle nie tot inkeer kom nie, sal julle almal ook net so omkom.”
6. Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ’n vyeboom in sy tuin geplant en telkens gekom om te kyk of daar al vye aan was, maar hy was altyd teleurgesteld.
7. Uiteindelik het hy vir sy tuinier gesê: ‘Kyk, ek kom soek nou al drie jaar lank vrugte aan hierdie boom en kry niks nie. Haal hom uit! Hoekom moet hy die grond nog langer uitput?’
8. “Die tuinier het geantwoord: ‘Meneer, gee hom nog een kans. Los hom nog ’n jaar, en ek sal besondere aandag aan hom gee en baie bemesting.
9. As ons volgende jaar vye kry, goed. So nie kan u hom uithaal.’”
10. Een Sabbatdag, terwyl Jesus in die sinagoge onderrig gegee het,
11. het Hy ’n vrou gesien wat deur ’n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie.
12. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: “Vrou, jy is van jou kwaal genees!”