Lukas 12:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “En Ek verseker julle hiervan: As enigiemand My openlik hier op aarde erken, sal Ek, die Seun van die Mens, daardie persoon openlik voor God se engele erken.

9. Maar as enigiemand My hier op aarde verloën, sal Ek dié persoon voor God se engele verloën.

10. Nietemin sal dié wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê, vergewe word, maar enigeen wat teen die Heilige Gees laster, sal nooit vergewe word nie.

11. “En wanneer julle in die sinagoges en voor heersers en owerhede verhoor word, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie,

12. want die Heilige Gees sal julle leer wat nodig is om te sê terwyl julle daar staan.”

13. Toe het iemand uit die skare geroep: “Leermeester, sê asseblief vir my broer om ons pa se boedel met my te deel.”

14. Jesus het geantwoord: “Vriend, wie het My as regter oor julle aangestel om oor sulke dinge te besluit?”

15. Toe het Hy gesê: “Pas op! Moenie gierig wees nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.”

16. Toe vertel Hy ’n gelykenis: “’n Ryk man het ’n vrugbare plaas besit wat goeie oeste opgelewer het.

Lukas 12