20. Maar moenie bly wees net omdat bose geeste julle gehoorsaam nie; wees bly omdat julle name opgeteken is as burgers van die hemel.”
21. Toe is Jesus vervul met die blydskap van die Heilige Gees en het gesê: “O Vader, Here van hemel en aarde, dankie dat U die waarheid verberg het vir dié wat in hulle eie oë so wys en slim is, en dit aan die kindertjies bekendgemaak het. Ja, Vader, dit het U behaag om dit só te doen.
22. “My Vader het My gesag oor alles gegee. Niemand ken werklik die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken werklik die Vader nie, behalwe die Seun en hulle aan wie die Seun Hom wil openbaar.”
23. Toe hulle alleen was, het Hy na die dissipels gedraai en gesê: “Hoe bevoorreg is julle om te sien wat julle sien!
24. Ek sê vir julle, baie profete en konings het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar hulle kon nie.”
25. Eendag het ’n wetskenner na vore gekom om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
26. Jesus het geantwoord: “Wat sê die wet van Moses? Wat lees jy daarin?”
27. Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’ En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’”
28. “Reg!” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit en jy sal lewe!”
29. Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?”