Levitikus 16:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy die wierook op die gloeiende kole neersit sodat ’n wolk van wierook oor die deksel van die ark kan opstyg. Die deksel van die ark is die plek van versoening en dit rus op die ark van die verbond. As hy hierdie instruksies nakom, sal hy nie sterf nie.

14. Dan moet hy sy vinger in die bloed van die bul druk en dit voor die versoeningsdeksel sprinkel en daarna sewe keer teen die voorkant van die ark.

15. “Dan moet Aäron die bok as sonde-offer vir die volk slag en die bloed agter die voorhangsel inbring. Daar moet hy die bloed op die versoendeksel en teen die voorkant van die ark sprinkel, net soos hy met die bloed van die bul gemaak het.

16. Op dié manier sal hy versoening bring vir die Allerheiligste plek, en sal hy ook dieselfde doen vir die tent van ontmoeting as gevolg van die verontreinigende sonde en rebellie van die Israeliete.

17. Niemand word in die tent van ontmoeting toegelaat terwyl Aäron daar besig is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek nie. Niemand mag daar ingaan voordat hy nie daar uitgekom het nadat hy versoening gedoen het vir homself, sy huis en vir al die Israeliete nie.

18. “Dan sal Aäron uitgaan om versoening te doen vir die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here staan deur van die bloed van die bul en die bok aan elk van die altaar se horings te smeer.

19. Dan moet hy sy vinger in die bloed druk en dit sewe keer oor die altaar sprinkel. Op dié manier sal hy die altaar reinig van die onreinheid van Israel.

20. “Wanneer Aäron klaar is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting en die altaar, moet hy die lewende bok naderbring.

21. Hy moet al twee sy hande op die kop van die bok lê en al die sondes en opstand van die Israeliete daaroor bely. Op dié manier sal hy die volk se sondes op die kop van die bok lê. Dan sal hy die bok die woestyn in jaag, gelei deur iemand wat gekies is vir die taak.

22. Die man moet die bok in die woestyn agterlaat. So sal die bok al die sondes van die volk na ’n afgeleë plek wegdra.

23. “Wanneer Aäron die tent van ontmoeting binnegaan, moet hy al die linneklere uittrek wat hy aangehad het toe hy in die Allerheiligste plek ingegaan het. Hy moet die klere daar laat.

Levitikus 16