1. Die Here het vir Moses gesê:
2. “Die volgende instruksies moet gevolg word deur die mense wat gereinig word ná ’n aansteeklike velsiekte. Die persone wat gesond geword het, moet na die priester gebring word.
3. Hy sal hulle by ’n plek buite die kamp ondersoek. As die priester sien dat iemand gesond geword het van die velsiekte,
4. sal hy ’n reinigingseremonie uitvoer. Die priester moet dit doen met twee eetbare wilde voëls, ’n stukkie sederhout, ’n rooi-pers lap en ’n hisoptakkie.
5. Die priester sal dan bevel gee dat een van die voëls oor ’n kleipot met vars fonteinwater geslag moet word.
6. Hy sal dan die lewende voël saam met die stukkie sederhout, die rooi-pers lap en die hisoptakkie vat en in die bloed van die voël wat geslag is, dompel.
7. Die priester sal ook van die dooie voël se bloed vat en sewe keer sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word. Die priester sal dan die persoon rein verklaar. Aan die einde van die seremonie sal die priester die lewende voël vrylaat sodat dit in die oop veld kan wegvlieg.
8. “Die persone wat gereinig word, moet die reinigingseremonie voltooi deur hulle klere te was, al hulle hare af te skeer en in water te bad. Dan sal hulle rein wees en mag hulle weer na die kamp terugkeer. Hulle moet egter vir nog sewe dae buite hulle tente bly.