1. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:
2. “As iemand ’n swelsel, ’n uitslag of ’n seer plek op sy vel het wat ontwikkel in ’n aansteeklike velsiekte, moet hy na die priester Aäron of een van sy seuns gebring word.
3. Die priester sal dan die aangetaste deel van die vel van die persoon ondersoek. As die hare op die aangetaste deel wit geword het en dit lyk na iets dieper as die vel, dan is dit ’n aansteeklike velsiekte en moet die priester die persoon onrein verklaar.
4. “As die aangetaste deel van die vel wit is, maar dit lyk nie na iets dieper as die vel nie, en as die hare op die plek nie wit geword het nie, sal die priester die aangetaste persoon vir sewe dae onder kwarantyn plaas.
5. Op die sewende dag sal die priester weer ’n ondersoek doen. As die aangetaste deel nie verander of verder versprei het nie, sal die priester die persoon vir nog sewe dae onder kwarantyn plaas.
6. Die priester sal die vel dan weer op die sewende dag ondersoek. As die aangetaste deel beter geword en nie versprei het nie, sal die priester die persoon rein verklaar. Dit was dan net ’n tydelike uitslag. As die persoon sy klere gewas het, sal hy gereken word as vry van enige siekte.
7. As die uitslag aanhou versprei ná die ondersoek van die priester, moet die besmette persoon terugkeer om weer ondersoek te word.
8. As die priester opmerk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar, want dan is dit ’n aansteeklike velsiekte.
9. “Enigiemand wat ’n aansteeklike velsiekte ontwikkel, moet na die priester toe gaan vir ’n ondersoek.