17. Die Israeliete het dadelik vertrek om ondersoek in te stel. Hulle het op die derde dag by die stede van die Gibeoniete aangekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.
18. Die Israeliete het hulle nie aangeval nie. Die leiers van die volk het immers ’n eed voor die Here die God van Israel afgelê! Die hele volk het egter gekla oor wat die leiers gedoen het.
19. Die leiers het egter vir die volk gesê: “Ons het dan ’n eed voor die Here die God van Israel vir hulle afgelê. Ons kan hulle mos nie nou aanval nie.
20. Ons moet by die verdrag hou. Ons moet hulle laat bly leef sodat God nie op ons wraak neem as ons die eed verbreek wat ons teenoor hulle afgelê het nie.
21. Laat hulle bly leef, maar hulle moet die volk se houtkappers en waterdraers word.” So het die leiers hulle gepaai.
22. Josua het die Gibeoniete bymekaar geroep en vir hulle gevra: “Hoekom het julle ons so mislei? Julle het gesê dat julle baie ver van ons af bly, en hier woon julle al die tyd naby ons.
23. Julle is vervloek. Van nou af sal julle die houtkappers en waterdraers vir die huis van my God wees.”
24. Hulle het Josua geantwoord: “Dit is vir ’n feit aan u diensknegte vertel dat die Here u God vir sy dienaar Moses opdrag gegee het om die land in besit te neem en al sy inwoners voor julle uit te wis. Ons was bang dat ons doodgemaak sal word. Ons het toe hierdie plan uitgedink.
25. Ons is nou in u hand. U moet met ons maak soos dit vir u goed en reg is.”