Josua 10:19-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Julle ander moenie daar bly nie. Agtervolg die vyand. Vel hulle neer. Moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God gee hulle oor aan julle.”

20. Josua en die Israeliete het hulle heeltemal uitgewis. ’n Klein klompie van hulle het oorleef en na die versterkte stede ontvlug.

21. Toe hulle klaar was, is al die Israeliete veilig terug na Josua by die kamp in Makkeda. Niemand het iets verder oor die Israeliete te sê gehad nie.

22. Josua het toe opdrag gegee: “Maak die grot se bek oop. Bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.”

23. Hulle het so gemaak. Hulle het die vyf konings uit die grot na Josua toe gebring. Dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.

24. Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, het hy al die Israeliete bymekaargeroep. Hy sê toe vir die offisiere wat saam met hom gegaan het: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke.” Hulle het dit toe gedoen.

25. Hy het voortgegaan: “Julle moenie bang wees nie. Moenie ontstel wees nie. Julle moet sterk en dapper wees. Dit is soos die Here gaan maak met al julle vyande teen wie julle moet oorlog maak.”

26. Josua het daarna die vyf konings doodgemaak. Hy het elkeen aan ’n boom laat ophang. Hulle het aan daardie vyf bome bly hang tot skemeraand toe.

Josua 10