14. So ’n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die Here het geluister na wat ’n mens vir Hom vra! Die Here het aan Israel se kant geveg.
15. Josua en almal saam met hom is toe terug na die kamp in Gilgal.
16. Die vyf konings het op die vlug geslaan. Hulle het in ’n grot in Makkeda gaan wegkruip.
17. Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle in die grot van Makkeda wegkruip.
18. Hy het opdrag gegee: “Rol groot klippe voor die bek van die grot. Sit wagte daar om dit op te pas.
19. Julle ander moenie daar bly nie. Agtervolg die vyand. Vel hulle neer. Moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God gee hulle oor aan julle.”
20. Josua en die Israeliete het hulle heeltemal uitgewis. ’n Klein klompie van hulle het oorleef en na die versterkte stede ontvlug.
21. Toe hulle klaar was, is al die Israeliete veilig terug na Josua by die kamp in Makkeda. Niemand het iets verder oor die Israeliete te sê gehad nie.
22. Josua het toe opdrag gegee: “Maak die grot se bek oop. Bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.”
23. Hulle het so gemaak. Hulle het die vyf konings uit die grot na Josua toe gebring. Dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.