Johannes 9:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was.

2. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

3. Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.

4. Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie.

5. Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak

7. en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien!

8. Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?”

9. Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.”Die man het toe self reageer: “Dit is ék!”

Johannes 9