Johannes 8:33-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?”

34. Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde.

35. Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd.

36. As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.

37. Ek is daarvan bewus dat julle die afstammelinge van Abraham is. En tog beywer julle julle om My dood te maak omdat julle nie my boodskap wil aanvaar nie.

38. Ek praat oor wat Ek by mý Vader gesien het; en julle doen wat julle by júlle pa gehoor het.”

39. Hulle het daarop reageer: “Abraham is ons pa.”Jesus antwoord hulle: “As julle ware kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het.

40. En nou wil julle My doodmaak – die Een wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle kom meedeel. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie.

Johannes 8