28. Terwyl Jesus besig was om in die tempel onderrig te gee, het Hy uitgeroep en gesê: “Julle ken My en julle weet waarvandaan Ek kom! Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware Een wat My gestuur het. Hom herken julle nie.
29. Ek ken Hom omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”
30. Hulle het toe pogings aangewend om Hom te arresteer, maar niemand het ’n hand op Hom gelê nie omdat sy tyd nog nie gekom het nie.
31. Baie mense uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Messias ook al kom, sal Hy sekerlik nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie.”
32. Die Fariseërs het gehoor dat die skare so oor Hom bespiegel. Hulle en die priesterhoofde het toe wagte gestuur om Hom te arresteer.
33. Jesus het egter reageer: “Ek is net vir ’n kort tydjie nog by julle; dan gaan Ek terug na Hom wat My gestuur het.
34. Julle sal My soek en My nie kry nie, en waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie.”
35. Toe het die Joodse leiers vir mekaar gesê: “Waarheen beplan hierdie man om te gaan dat ons hom nie sou kry nie? Hy beplan tog nie om na die verstrooide Jode onder die Griekssprekendes te gaan en om daar die Grieke te gaan onderrig nie?
36. Wat beteken die uitdrukking as Hy sê: ‘Julle sal My soek, maar nie kry nie, want waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie’?”
37. Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink.