50. Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie.
51. Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.”
52. Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?”
53. Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie.
54. Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek.
55. My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank.
56. Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom.
57. “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe.
58. “Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.”
59. Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee.
60. Toe baie van Jesus se dissipels dit hoor, het hulle gesê: “Hierdie boodskap is te kras, wie kan daarna luister?”