31. Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’”
32. Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee.
33. “Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.”
34. Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.”
35. Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie.
36. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie.
37. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie.
38. Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
39. Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan.
40. “Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.”
41. Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.”
42. Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?”
43. Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie.