Johannes 4:8-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop.

9. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie.

10. Jesus het daarop reageer: “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11. Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water?

12. Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.”

13. Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word.

14. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.”

15. Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.”

16. Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.”

17. Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.”Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’

18. Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.”

19. Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is.

20. Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ’n mens moet aanbid, is in Jerusalem.”

21. Jesus merk toe op: “Glo My, Vrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

22. Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode.

23. Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.

24. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

25. Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.”

Johannes 4