Johannes 4:38-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

38. Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.”

39. Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

40. Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly.

41. Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo.

42. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”

43. Na twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe vertrek.

44. Hy het self plegtig verklaar dat ’n profeet nie in sy eie vaderland geëer word nie.

45. Toe Jesus in Galilea aankom, het die Galileërs Hom hartlik ontvang. Hulle het al die dinge gesien wat Hy gedurende die fees in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die fees.

46. Jesus het toe weer ’n keer in Kana, in Galilea, aangekom waar Hy vroeër die water in wyn verander het. In Kapernaum was daar ’n sekere koninklike amptenaar wie se seun ernstig siek was.

Johannes 4