Johannes 4:23-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.

24. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

25. Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.”

26. Toe sê Jesus vir haar: “Ék is hy – Ek wat nou met jou praat!”

27. Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie.

28. Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê:

29. “Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?”

30. Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom.

31. Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: “Rabbi, eet tog net iets.”

32. Maar Hy het reageer: “Ék het kos om te eet waarvan júlle nie eers weet nie.”

33. Die dissipels sê toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?”

34. Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak.

35. Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes.

36. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly.

37. In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’

38. Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.”

39. Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

40. Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly.

41. Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo.

Johannes 4