Johannes 20:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo.

9. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10. Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe.

11. Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk.

12. Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant.

13. Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?”Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

14. Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie.

15. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?”Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.”

16. Jesus sê vir haar: “Maria!”Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken ‘Leermeester’.

17. Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.”

18. Maria Magdalena het die boodskap aan Jesus se dissipels gaan oordra: “Ek het die Here gesien!” Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

19. Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20. Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien.

Johannes 20