Johannes 18:35-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

35. “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?”

36. Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.”

37. “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus.“U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.”

38. Pilatus sê toe vir Jesus: “Wat is waarheid?” Terwyl hy dit sê, gaan Pilatus weer buitentoe na die Jode en kondig aan: “Ek vind geen skuld in hom nie.

39. Dit is egter die gebruik by julle dat ek iemand vir julle loslaat op die Paasfees. Wil julle dus hê dat ek vir julle die Koning van die Jode loslaat?”

40. Hulle skree toe terug: “Nee, beslis nie daardie man nie, eerder vir Barabbas!” Barabbas was ’n misdadiger.

Johannes 18