Johannes 14:21-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”

22. Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?”

23. Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan.

24. Wie My egter nie liefhet nie, is nie gehoorsaam aan my woorde nie. Die boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25. Ek sê dit nou al lank vir julle, terwyl Ek nog by julle is;

26. en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27. “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.

Johannes 14