Johannes 13:27-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Ná die stukkie brood het Satan van hom besit geneem. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy doen, moet jy gou afhandel!”

28. Niemand wat aan tafel was, het geweet om watter rede Hy dit vir Judas gesê het nie.

29. Sommige het inderdaad gedink, terwyl Judas die beursie dra, dat Jesus vir hom gesê het: “Gaan koop wat ons nodig het vir die paasete,” of dat hy soos gebruiklik iets aan die armes moes gaan gee.

30. Net nadat Judas die stukkie brood aanvaar het, het hy dadelik vertrek. Dit was nag.

31. Toe Judas vertrek het, merk Jesus op: “Nou is Ek, die Seun van die Mens, verheerlik, en God is deur My verheerlik.

32. As God deur My verheerlik is, sal God self My ook verheerlik; en Hy sal My binnekort verheerlik.

33. Kinders, Ek is nog net vir ’n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou weer vir julle: Daar waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.

34. Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê.

35. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”

36. Simon Petrus vra Hom: “Here, waarheen gaan U?”Jesus het geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My wel volg.”

Johannes 13