27. “Nou is Ek hewig ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: ‘Vader, red My uit hierdie uur’? Tog het Ek juis vir hierdie uur gekom.
28. Vader, verheerlik ú Naam!”Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit alreeds verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”
29. Die skare wat daar rondgestaan en dit gehoor het, het beweer dat daar ’n groot donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”
30. Toe reageer Jesus: “Hierdie stem was nie ter wille van My nie, maar ter wille van julle.
31. Nou vind die oordeel oor hierdie wêreld plaas; nou sal die leier van hierdie wêreld na buite toe uitgedryf word.
32. En wanneer Ek van die aarde af aan die kruis verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.”
33. Dit het Jesus gesê en terselfdertyd aangedui watter soort dood Hy sou sterf.
34. Die skare het reageer: “Ons het volgens die wet gehoor dat die Messias vir altyd gaan bly. Hoe sê u dan nou dat die Seun van die Mens verhoog moet word? Buitendien, wie is hierdie Seun van die Mens?”
35. Jesus het hulle geantwoord: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Rig julle lewe só in terwyl julle nog die lig by julle het, dat die duisternis nie oor julle toeslaan nie. Wie sy lewe in die duisternis inrig, weet mos nie waar hy gaan eindig nie.