Johannes 1:33-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’

34. Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.”

35. Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels.

36. Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!”

37. Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg.

38. Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit ‘leermeester’ – “waar gaan U tuis?”

39. Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly.

40. Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het.

41. Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.”

42. Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’vertaal word) genoem word.”

43. Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg my!”

Johannes 1