Job 1:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Eendag het die hemelwesens* voor die Here kom staan. Die aanklaer was tussen hulle.

7. “Waar was jy heeltyd?” vra die Here vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die Here: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.”

8. Die Here vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy aanbid My en vermy die kwaad.”

9. Die aanklaer sê toe vir die Here: “Ja, dit is so. Job dien die Here. Maar hy het goeie rede om dit te doen!

10. U het hom, sy huisgesin en sy eiendom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak. Kyk net hoe ryk is hy!

11. Maar reik nou uit en vat alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!”

12. “Goed, jy mag hom toets,” sê die Here vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die Here af.

13. Eendag het Job se seuns en dogters by hulle oudste broer se huis geëet en wyn gedrink.

14. Daar kom toe ’n boodskapper by Job se huis aan met die nuus: “Ons was aan’t ploeg met die osse, en die donkies het ook daar rond gewei.

15. Toe oorval skurke ons uit Skeba. Hulle het al die diere gesteel en al die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat kon wegkom om dit vir u te vertel.”

16. Hy was nog besig met dié droewige verhaal toe ’n ander man by Job aankom met die nuus: “Weerlig het van God af uit die hemel geslaan* en al u skape en al die skaapwagters doodgeslaan. Ek is die enigste een wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

17. Hy was nog besig om te praat toe ’n derde boodskapper by Job aangehardloop kom met die nuus: “Drie groepe Galdese rowers het al u kamele gesteel. Hulle het ook al u werkers doodgemaak. Ek is die enigste wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

18. Hy was nog besig om vir Job van die tragedie te vertel toe nog ’n boodskapper met die nuus kom: “U seuns en dogters het partytjie gehou in die huis van hulle oudste broer.

Job 1