Jeremia 8:8-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Hoe kan julle dan sê: ‘Ons het wysheid, want ons het die Here se gebooie by ons’?Maar hulle wat die voorskrifte neerskryf,pleeg bedrog en vervals die gebooie.

9. Julle wyse mense sal in die skande kom, want hulle is verward en vasgevang in hulle eie manier van dink. Hulle het die Here se woord verwerp.Hoe wys is hulle werklik?

10. Ek sal hulle vroue en grondvir invallers gee, want almal van my volk, klein en groot, bedrieg om te kry wat nie aan hulle behoort nie. Selfs die priesters en die profete doen sulke oneerlike dinge.

11. Hulle pogings om my volk se wonde te genees, is oppervlakkig. Hulle sê: ‘Vrede, vrede,’terwyl daar geen vrede is nie.

12. Is hulle glad nie skaam oor al die afstootlike dinge wat hulle doen nie? Nee, hulle bloos nie eers nie!Daarom sal hulle tussen die gesneuweldes lê. Wanneer Ek hulle straf, sal Ek hulle verneder,” sê die Here.

13. “Ek sal hulle oeste wegneem,”sê die Here. “Daar sal geen druiwe aan die wingerdstokke wees nie. Daar sal geen vye aan die bome wees nieen die blare sal verdor. Wat Ek vir hulle gegee het,sal Ek weer terugneem,” sê die Here.

14. Dan sal die volk sê: “Hoekom sal ons hier bly sit? Kom ons gaan na die versterkte dorpe en sterf daar. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet vergaan. Hy het vir ons vergiftigde water gegee om te drink, want ons het teen die Here gesondig.

15. “Ons wag op vrede, maar daar het niks goeds gebeur nie. Ons het uitgesien na ’n tydperk van genesing, maar iets skrikwekkends het gebeur.

16. Ons kon alreeds uit Dan die gesnuif van die vyand se perde hoor! Die hele land het gebewe van die perde se gerunnik. Die vyand se plan was om ons land en alles daarin te kom verwoes, ook die stad en die mense wat daarin bly.”

17. Die Here sê: “Ek stuur die vyand soos giftige slange tussen julle in, adders wat julle nie kan besweer nie. Die slange sal julle pik.”

18. My hartseerkan nie genees word nie. My hart is gebreek.

19. Hoor die gehuil van my mense oor die hele land: “Is die Here nie meer in Jerusalem nie? Is die Koning ook nie meer in die stad nie?” Die Here vra: “Hoekomhet julle My geterg met julle afgodsbeelde en vreemde, nuttelose afgode?”

20. “Die oes is af en die somer is verby: tog is ons nog nie gered nie,” kla die mense.

21. Ek treur oor die pyn van my mense. Ek is stomverslae van verdriet.

22. Is daar nie medisyne in Gilead nie? Is daar nie ’n dokter wat kan help nie? Hoekom is daar nie genesing vir my volk nie?

Jeremia 8