Jeremia 52:2-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Hy het nes Jojakim gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was.

3. Die Here was baie kwaad hieroor. Hy het toe die mense van Jerusalem en Juda uit sy teenwoordigheid verban.Sedekia het hierna in opstand gekom teen koning Nebukadnesar van Babel.

4. Op 15 Januarie, in die negende jaar wat Sedekia koning was, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het die stad omsingel en oral rondom die stad beleëringswalle gebou.

5. Hulle het Jerusalem beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia.

6. Teen 18 Julie van die elfde jaar wat Sedekia koning was, was die hongersnood in die stad baie erg. Daar was geen kos vir die inwoners nie.

7. Hulle het toe in ’n gedeelte van die stadsmuur ’n gat deurgebreek. Hoewel die Babiloniërs die stad omsingel het, het die soldate in die nag uit die stad probeer ontsnap. Hulle het by ’n hek tussen die twee mure, agter die koningstuin, uitgegaan en in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.

8. Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg. Hulle het koning Sedekia ingehaal op die vlakte naby Jerigo. Daar is sy leër van hom geskei en hulle het in alle rigtings gespat.

9. Hulle het Sedekia gevang en hom na koning Nebukadnesar in Ribla, in die Hamatgebied, gebring. Koning Nebukadnesar het hom daar verhoor.

10. Die koning van Babel het Sedekia se seuns voor hom doodgemaak asook al die ander leiers van Juda.

11. Sedekia se oë is uitgesteek en daarna is hy in kettings geboei en die koning van Babel het hom na Babel toe gebring. Daar is hy in die tronk gegooi, waar hy tot sy dood gebly het.

12. Op 17 Augustus, in die negentiende regeringsjaar van Nebukadnesar van Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was kaptein van koning Nebukadnesar se lyfwag.

Jeremia 52