11. Miga seun van Gemarja en kleinseun van Safan het ook die boodskappe van die Here uit die boekrol gehoor.
12. Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en ook nog ander van die amptenare.
13. Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het,
14. het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om ook vir hulle die boodskappe wat hy vir die volk gelees het, te kom lees. Jehudi was die seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was.
15. Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boekrol vir hulle voor te lees. Baruk het dit vir hulle voorgelees.
16. Nadat hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, het hulle bevrees na mekaar gekyk. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet verseker vir die koning gaan vertel wat ons gehoor het.”
17. Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, hoe het jy hierdie boodskappe gekry? Kom dit direk van Jeremia af?”
18. Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit met ink op die boekrol neergeskryf.”
19. Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”
20. Die amptenare het die boekrol veilig in Elisama die sekretaris se kantoor weggebêre. Hulle het toe na die paleis toe gegaan en vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.
21. Koning Jojakim het Jehudi gestuur om die boekrol te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl al sy amptenare bygestaan het.
22. Dit was laatherfs. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.
23. Baruk het die boekrol in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boekrol te sny. Hy het deel vir deel in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy die hele boekrol verbrand het.