33. My mense het hulle rug op My gedraai en My nie geëer nie. Dag na dag, jaarin en jaaruit het Ek hulle geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei. Maar hulle wou nie luister en gehoorsaam word nie.
34. Hulle was so vermetel om hulle afskuwelike afgodsbeelde in my tempel te sit. So het hulle die tempel onrein gemaak.
35. Hulle het in die Ben-Hinnomdal hoogtes vir Baäl gebou. Daar het hulle hulle seuns en dogters geoffer om Molek se guns te wen. Dit is nie iets wat Ek vir hulle gesê het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen nie. So het hulle veroorsaak dat Juda sondig!”
36. Die Here, die God van Israel, sê: “Ek wil nog iets oor hierdie stad sê. Julle sê nou wel: ‘Hierdie stad sal onder beheer van die koning van Babel kom deur oorloë, hongersnood en siektes.’
37. Maar hoor gerus hier: Ek sal hulle weer bymekaarmaak van oral oor die aarde waarheen Ek hulle verjaag het oor Ek woedend kwaad vir hulle was. Dan sal Ek hulle na hierdie plek toe terugbring en hulle veilig laat woon.
38. Hulle sal weer my volk wees en Ek sal hulle God wees.
39. Ek sal hulle harte op My rig, met een doel voor oë: om My vir altyd te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste wees om te doen.
40. “Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit waarin Ek belowe om nie op te hou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My in eerbied te dien. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie.
41. Dit sal vir My baie aangenaam wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal getrou wees en hulle in hierdie land vestig. Ek sal dit heelhartig doen.
42. Nes Ek veroorsaak het dat groot rampe hierdie volk van My tref, sal Ek sorg dat hulle weer voorspoedig sal wees soos Ek belowe het. Dit is wat die Here sê Hy gaan doen!
43. “Dit is soos julle sê: ‘Die land is nou verlate omdat dit in die mag van die Babiloniërs beland het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het.’ Maar hulle sal weer grond in hierdie land koop en verkoop.