6. In die tyd toe Josia koning was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid.
7. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie. “Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur.
8. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien.
9. Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien.
10. Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die Here.
11. Toe sê die Here vir my: “Selfs die ontroue Israel is minder skuldig as die verraderlike Juda!