Jeremia 27:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Met die aanvang van die regering van koning Sedekia van Juda het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Sedekia was die seun van Josia.

2. Die Here het vir my gesê: “Maak vir jou ’n juk en sit dit op jou nek vas met leerrieme.

3. Stuur dan deur hulle ambassadeurs ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon. Die ambassadeurs het na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom.

4. Gee hulle opdrag om die volgende boodskap aan hulle konings oor te dra: ‘Die Here, die Almagtige, die God van Israel sê:

5. Ek het die aarde en die mense en die diere op die aarde deur my groot mag en krag gemaak. Ek kan dit gee aan wie Ek wil.

6. Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek sal al hierdie lande vir hom gee. Ek sal selfs die wilde diere van die veld onder sy beheer stel.

7. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien tot hulle tyd verby is. Daarna sal sterk nasies en magtige konings Babel oorwin en oor Babel regeer.

Jeremia 27