16. Moet dus nie mislei word nie, my geliefde broers en susters.
17. Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie.
18. Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is.
19. My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie.
20. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie.
21. Raak daarom ontslae van die vuilheid en boosheid wat so welig in julle tier, en aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red.
22. Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie; dan bedrieg julle julleself.
23. Julle sal saamstem: As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen.
24. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het.
25. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ’n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen.
26. As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie.
27. Suiwer en onbevlekte godsdiens voor God ons Vader is dat ons weeskinders en weduwees in hulle swaarkry versorg, en dat ons nie toelaat dat die wêreld ons besmet nie.