Hosea 4:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Volk van Israel, luister na die woord van die Here! Die Here het ’n regsaak teen die inwoners van die land. Hy sê: “Daar is geen getrouheid, goedheid of ’n intieme verhouding met God in julle land nie.

2. Julle vloek en lieg, maak dood en steel, en pleeg egbreuk. Oral is daar geweld en bloedvergieting.

3. Dis waarom die hele land verskrompel en kwyn van dors saam met al die inwoners, wilde diere en voëls. Selfs die visse beswyk.

4. “Moenie julle vinger na iemand anders toe wys nie. Moenie die skuld op iemand anders pak nie! Die klag wat Ek lê, is teen jóú, o priester!

5. Daarom sal jy helder oordag struikel, en die profeet saam met jou in die nag. Boonop sal Ek jou ma vernietig, o Israel.

6. My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie. Omdat jyself dié kennis verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die voorskrifte van jou God vergeet het, sal Ek jou kinders vergeet.

7. Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal hulle aansien in skande verander.

8. “Die priesters verryk hulleself wanneer die mense hulle sonde-offers na hulle toe bring. Daarom is die priesters bly wanneer die mense sondig!

Hosea 4