10. God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.
11. Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word.
12. Dan sal julle nie traag raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.
13. Neem byvoorbeeld God se belofte aan Abraham. Omdat daar niemand groter as Hy self was by wie God ’n eed kon aflê nie, het Hy ’n eed by Homself afgelê deur te sê:
14. “Ek sal jou vir seker ryklik seën en Ek sal aan jou ’n baie groot nageslag gee.”
15. En so het Abraham volgehou en begin ontvang wat God beloof het.
16. Mense lê gewoonlik ’n eed af by iemand wat belangriker as hulleself is. Vir hulle is die eed dan absoluut bindend. Daar kan geen dispuut daaroor wees nie.
17. Omdat God bo alle twyfel vir hulle wat die belofte ontvang het, wou bewys hoe onwrikbaar vas sy besluit staan, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. Hy het dus vir ons ’n belofte sowel as ’n eed gegee.
18. Hierdie twee dinge waarborg dat God sy woord sal hou. En so het ons wat onsself aan God toevertrou het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die vooruitsig wat vir ons wink.
19. Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn.
20. Dít is tog waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het – Hy wat ons ewige Hoofpriester geword het volgens die priesterorde van Melgisedek.