13. ’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die bemanning het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Hulle het anker gelig en al langs die kus van Kreta gevaar.
14. Maar dit was nie lank nie toe slaan daar ’n stormwind bekend as die Noordooster van die land af toe.
15. Die skip is diepsee toe gedryf. Omdat dit onmoontlik was om die skip windop te hou, het ons ophou probeer, en ons is deur die wind voortgedryf.
16. Ons het onder ’n eilandjie met die naam Kauda verbygevaar en kon amper nie die reddingsbootjie van die skip (wat altyd op sleeptou was) onder beheer kry nie.
17. Nadat die matrose die reddingsbootjie aan boord gebring het, het hulle reddingstoue gebruik om die onderkant van die skip te verstewig. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis sou vasval, het hulle die dryfanker uitgegooi en die skip só deur die wind laat dryf.
18. Toe die storm ons aanhoudend só erg teister, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi.
19. Die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi.
20. Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.
21. Vir ’n lang tyd het niemand sy mond aan kos gesit nie. Uiteindelik het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Mooi Hawens in Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade gespaar gewees het.
22. En nou vra ek julle: Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan.
23. Verlede nag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan
24. en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’
25. Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.
26. Ons moet op ’n eiland strand.”
27. Die veertiende nag wat ons so op die Adriatiese See rondgedobber het, teen middernag, het die matrose vermoed dat hulle naby land kom.
28. Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van 36 meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer gemeet, en toe kry hulle 27 meter.