Handelinge 19:5-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.

6. Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer.

7. Altesaam was dit ongeveer twaalf mans.

8. Paulus is toe na die sinagoge en hy het daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek. Hy het besprekings gehou en oortuigende argumente aangevoer oor die koningsheerskappy van God.

9. Party was egter koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook voor die gemeente sleg gepraat van “Die Pad”. Toe het Paulus die sinagoge verlaat en hy het die gelowiges saam met hom gevat. Hy het daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou.

10. So het dit vir die volgende twee jaar gegaan sodat almal in die Romeinse provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die boodskap van die Here gehoor het.

11. God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen.

12. Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

13. Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het, was: “Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkondig!”

14. Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva.

Handelinge 19