Handelinge 18:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Paulus het die stad vir ’n jaar en ses maande lank sy basis gemaak en die mense onderrig in die woord van God.

12. Toe Gallio egter goewerneur van Agaje geword het, het sommige Jode ’n verenigde front teen Paulus gevorm en hom voor die hof gedaag.

13. Hulle het Paulus daarvan aangekla dat hy die mense “probeer oorhaal om God op maniere te vereer wat teen die wet is”.

14. Net toe Paulus homself wou begin verdedig, sê Gallio vir die Jode: “As dit oor ’n onreg of ’n ernstige misdaad gegaan het, Jode, sou ek julle klag aangehoor het.

15. Maar aangesien dit ’n twis is oor ’n boodskap en name en oor julle eie wet, moet julle self daaraan aandag gee. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.”

16. Hy het die hof toe verdaag.

Handelinge 18