Handelinge 17:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika, en hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê.

12. Baie van hulle het gevolglik gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, sowel vooraanstaande vroue as mans.

13. Toe die Jode van Tessalonika egter hoor dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig word, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die skares opgesweep.

14. Die gelowiges het Paulus dadelik weggestuur kus toe, maar Silas en Timoteus het agtergebly.

15. Paulus se begeleiers het hom tot in Atene vergesel. Toe het hulle teruggegaan met ’n opdrag aan Silas en Timoteus om so gou moontlik by Paulus aan te sluit.

16. Terwyl Paulus in Atene vir hulle wag, het hy diep verontwaardig geword toe hy agterkom die stad is so vol afgodsbeelde.

17. Hy het in die sinagoge geredeneer met die Jode en dié wat die ware God aanbid het, en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat.

18. ’n Paar filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gedebatteer. Toe Paulus oor Jesus en sy opstanding praat, het party gesê: “Wat sou hierdie kletskous tog wil sê?” Ander het gesê: “Hy klink na vreemde gode se boodskapper.”

19. Hulle het hom na die Areopagusraad toe gevat en gesê: “Ons wil graag meer weet oor hierdie nuwe leer wat deur jou verkondig word.

20. Dis regtig vreemde dinge wat ons hoor; ons wil graag weet wat dit beteken.”

Handelinge 17